Tag Archives: direkteure

Duiweboere moes doen sonder 2-miljoen

Gideon de Cock van Alberton met die “wentjek” vir R687 750 pleks van die beloofde R2 miljoen in Suid-Afrika se “skouspelagtigste” duiwewedvlug in 2003.

Hul duif het toeka al die “skouspelagtigste” wedvlug in Suid-Afrika gewen, maar nege jaar later wag sy eienaars steeds op hul prysgeld van R2 miljoen.

Dié Een Hok-wedvlug, met prysgeld van sowat R4 miljoen, is 1 Februarie 2003 op die Carnival City-terrein in Brakpan naby Johannesburg gehou.
Die wenner van die wedvlug, aangebied deur die Gautengse maatskappy Sky Comrades BK, is prysgeld van R2 miljoen beloof, selfs groter as dié van die Sun City Million Dollar-wedvlug se R1,6-miljoen as eerste plekprys.
Maar al wat hulle oorhet van hul duif se wenslag in Sky Comrades BK se spogwedvlug, is ’n reuse fop-tjek ter waarde van R687 750, sê Gideon de Cock van Alberton en Bertie Share, ’n afgetrede verkeershoof van Knysna.
Toe hulle op Sky Comrades se webtuiste lees dat slegs R1 436 949 vir die top-200 wenners beskikbaar was, het Share ’n bedrogklag teen Sky Comrades ingedien. Nog wenners het met die hof gedreig.
Die maatskappy is Oktober 2003 gelikwideer.
Een van die direkteure, Jollie Pieters van Krugersdorp, het eergister aan Rapport gesê hul boeke het voor die hof gedien. En dat die vervolgingsgesag hulle skriftelik laat weet het die bedrogklag teen hulle is laat vaar.
“Ons wou iets skouspelagtig skep, maar die sommetjies het net nie uitgewerk nie – soos die organiseerders onttrek het, het die prysgeld verminder.
“’n Swart sindikaat wou ons met ’n 51%-aandeel uithelp, maar hulle het padgegee toe die storie in die media uitlek,” het Pieters gesê.
Vir hom as pensioenaris is dit steeds ’n droewige storie, sê De Cock. Hy wou ’n huis met sy wengeld koop.
Hulle het baie geld verloor, sê Share, maar hy “en Gideon het nou ’n jong duif geteel wat in Januarie aan die Sun City Million Dollar-wedvlug gaan deelneem”.